Tuesday, July 12, 2011

Barcelona, 12 Julie 2011



Ons het vandag ons voete afgeloop om te sien wat ons kan in Barcelona. Heel eerste het ons die die Sagrada Familia wat baie naby ons hotel is, aangepak. Ons was al 8:30 in die tou en hulle het eers 9:00 die deure oopgemaak. Toe ons daar aankom, was die tou alreeds lank, maar ons het gelukkig vasgebyt. Dit was 'n ongelooflike ervaring, ek het elke oomblik geniet. Dit is maar die moeite werd om die audio-guides te huur. Dit maak dat alles wat mens sien net soveel meer betekenis het. Daarsonder is dit net 'n klomp indrukwekkende en soms eienaardige beelde. As mens die storie ken, is dit baie interessant. Gaudi is regtig een van die ongelooflikste kunstenaars wat die wereld nog gesien het. Later meer....

Na Sagrada Familia het ons die moltrein aangepak op pad Picasso Museum toe. Daar gekom was die tou net eenvoudig te lank. Dit het amper 'n kilometer ver in die pad af gestaan. Dit is nie 'n goeie tyd van die jaar om die dinge hier te probeer sien as mens min tyd het nie. Ek dink meer as helfte van die mense in hierdie stad is op die oomblik toeriste. Ons het toe maar Guell Palace toe gegaan. Dit was net so interessant. Dite Guell-familie was/is een van die mees prominente en rykste families in Barcelona en het baie van Gaudi se werk moontlik gemaak, veral omdat hul hom as jong argitek reeds ondersteun het. Die uiteindelike resultaat was die ongelooflike Sagrada Familia. Daarna is ons na Parc Guell toe waar ons vir Tommie gekry het en weer 'n klomp van Gaudi se uitbundige geboue en beelde gesien het. Ek het elke oomblik geniet.

My voete was op, ons is terug hotel toe en het mekaar en Kody by La Rambla gekry vir aandete. Barcelona is regtig vir my 'n wondrlike stad. Die moltreinstelsel werk baie goed, die stad het goeie aanwysings en is skoon, en dit is regtig mooi en interessant. More begin die werk - ek wonder of ek enigiets van DL2011 gaan verstaan...

Barcelona, 11 Julie 2011


Ek het toe darem by my hotel uitgekom. Die lughawe op Barcelona is nie baie groot nie, maar goed georganiseer. Selfs by die taxis is daar toue en marshals wat mens soos skapies aanjaag na die rye taxis toe. Die vliegtuig was vol vakansiegangers en duisende (skool?)kinders wat oppad is strand toe.

My hotelletjie, Hostal Hostemplo, is modern binne al is die gebou oud, en baie skoon. Ek is uiters danbaar, was maar benoud. Ek het 'n dubbelkamer maar dit is nog steeds so klein dat ek die deur moet oopmaak as ek omdraai! Ek het gisteraand na ete net omgeval en soos 'n dooie 10 ure lank geslaap. Die hotelletjie is uitstekend gelee.

Monday, July 11, 2011

Munchen lughawe, 11 Julie 2011

Ek het so lanklaas gepost en dit is wraggies 'n jammerte. Die lewe spoed so verby.
Ek sit op Munchen se lughawe na 'n bekrompte vlug. Mens moet nooit heel voor in cattle class sit nie. Daar is nie beenspasie nie, en die besigheidsklassitplekke is net deur die gordyn. Glad nie goed vir die psige nie. Ek was moeg, maar kon nog steeds nie veel slaap nie. My volgende vlug na Barcelona is 11.20 so ek het nog baie tyd om hier te verkwis. Gelukkig het hulle verniet draadlose internet en uitstekende koffie. Selfs die slegste koffies hier vegelyk effens met ons s'n by die huis.

Dis warm en bewolk, en ek is soos altyd verwonderd oor die vlak van beskawing en effektiwiteit.

Nouja - tot later

Tuesday, July 6, 2010

Rondritsende

Wat 'n woeste 2 maande. Ek was in Sodwana einde April, toe in Toronto en Atlanta in Mei en die res van Mei het in 'n waas van jetlag verbygegaan. Junie is ek Madeira toe. Ek het 13 Junie, 5am in Madeira uit die hotel vetrek en eers my voete in die huis gesit  1nm die 14e Junie. Die 15e het ek probeer pak vir 'n kamp en toertrip, en 16 Junie 4am het ons vertrek Namib toe. Ons het laas Maandag teruggekom na 'n baie ekstreme 4x4 ervaring. Ek was die laaste 2 maande in 8 lande (SA ingesluit), op 3 kontinente en 'n eiland! Nou probeer ek weer alles bymekaar bring en dit is nogal 'n uitdaging. Ek het selfs vergeet waar goed op P&P se rakke is. Ek dink ek gaan baie energie spandeer daaraan om nerens heen te gaan tot Desember nie.

Thursday, June 10, 2010

Madeira foto's

My Madeira foto album is op Picasaweb. Klik net op die foto hieronder.

Madeira-2010

Tuesday, June 8, 2010

Innsbruck 2009

Hier is ons Innsbruck blog wat Alta gehou het - http://innsbruck2009-alta.blogspot.com/

Madeira 2010

Alta is so oulik. Sy blog alweer ons trip. Tot dusver het ek net gewerk, my praatjies het my baie senuagtig gemaak. Hier is haar blog.

Toronto - Mei 2010

Donderdag 13 Mei 2010, 00:12

Hier is ek in Toronto

Dit het alles vir my so vinig gebeur (voel dit vir my), dat ek nie mooi besef dat ek hier is nie. Ek het nog so half probeer om die tog te reel en goedkeuring te kry, en toe ek my oe uitvee, is die kaartjie gekoop. Daarna was dit die malle jaagtog om alles te reel met kinders, diere, werk, visum en wat nog. En hier is ek nou.

Die reel van die visum was 'n storie op sy eie. Ek was net mooi SES keer by of in die Kanadese High Commision. Dit in die aaklige Hatfield wat tans net bestaan uit straatwerke, opgehoopte verkeer en belaglike eenrigtings.

Die vlug hiernatoe is baie, baie lank. Ek het letterlik 28 ure gereis voordat my voetjies in die hotel grondgevat het. Die vlug van Jhb na Atlanta was 16+ uur. Daarna moes ek vyf ure rondhang in 'n vervelige A blok van Atlanta se lughawe, en toe was dit nog 2 ure na Toronto, en amper 'n halfuur in die taxi vir $55!

Toronto is baie ver suid in Kanada, eintlik half in Amerika. Verskeie van die VSA se stede en state is noord van Toronto. Die stad is glad nie 'n toeristestad nie - hier is GEEN stalletjies met yskasmagnete en 'I love Toronto' t-hemde nie. Ek weet nie waar gaan ek 'n Toronto-yskasmagneet kry vir my versameling nie!

Die stad is baie kosmopolitaans en wil so half vir my die idee gee dat dit Europa (van lank terug) gebaster met Amerika is. Kos kan mens van alles en nog wat kry: Vietnamees, Indies, Thai, Sushi, Itaiaans, Spaans, Starbucks en baie winkels met bagels. Die koffie is aaklig, die heel beste is Starbucks wat hier vir my slegter as in VSA self is.

Toronto self het nie veel om te sien nie. Die aantrekingskrag is maar in die aktiwiteite wat hier plaasvind, en om regtig deel te wees daarvan, moet mens langer hier wees. In Toronto self is die CN toring wat tot 2007 die hoogste toring in die wereld was, maar nou is daar een in Dubai wat hoer is. Ek was naby die toring Maandag, maar hulle is besig met konstruksiewerke in die hele blok en ek kon nie sien hoe mens tot by die toring kan kom nie. Hier is 'n paar fotos.

Toronto verkoop die Niagravalle as hulle groote besieningswaardigheid, maar daar gaan ek nie uitkom tens ek die konferensie afgee nie. Ek wou Maandag gaan, maar kon op geen manier op 'n bus kom op kort kennisgewing nie. Mens moet die vorige dag bespreek. Die uitstappie is 'n hele dag, mens vertrek 9:00 hier en is eers die aand 7-8:00 pm terug.

Nou ja, dit is dit vir eers.

My Ou Blogs

Skielik kan ek nie meer op Litnet blog nie, daar is nou 'n nuwe stelsel. En ek hou net mooi niks daarvan nie, want hoe lank gaan hulle my ou bloginskrywngs bere?

Hier is waar dit was, en hier, maar ek kopieer 'n klomp inskrywings hierna toe. Verskoon...

Terug (letterlik en figuurlik)

Dond 16 Apr 2009, 13:29
Dit beteken in blogland en in SA. Ons planne om gereeld te blog is toe deur duur internettoegang gekortwiek. 'Internet available' in Italie beteken of internet twee blokke in die straat af of internet op 'n rekenaar in die voorportaal waar die mense toustaan en dit als teen 5 Euro per uur.

Ons het 'n ongelooflike besoek in Rome gehad. Omdat dit so dol gegaan het voor die tyd en ons nie tyd gehad het vir baie huiswerk doen nie, het ons twee peperduur toere geboek via 'n verlangse familiekennis by Through Eternity. Dit was absoluut die moeite werd omdat die toergidse argeoloee en kunskenners is.

Die Sisteinse Kapel was my hoogtepunt. Daar is net eenvoudig nie woorde nie - niemand en niks kan dit wat in daai plek aangaan kopieer of beskryf nie. Dis asof Michaelangelo se beelde leef en dit is sy ongelooflike gebruik van ruimte en perspektief wat 'n kopie net nie kan oordra nie.

Hulle het selfs ekstra kaartjies gehad vir die Roomse mis Sondag vir ons, en ons het 3 ure daar gesit in die Vatikaanstad en was deel van daai grootse gebeurtenis, wel net as toeriste want die Rooms Katolieke manier is maar vreemd vir my. Dit was ongelooflik al was alles in Latyn. Daarna het ons nog vir oulaas die Pantheon gaan beskou voor ons die vliegtuig moes haal terug.

Ai tog - die malle-malle-meule

Vry 8 Mei 2009, 14:48  

 Ek was terug vir 3 weke in die bed met een of ander eienaardige virus en is alweer terug in Milaan waar hulle gister by die staise my beursie met al my Euro's en kaarte uit my handsak gesteel het. Hoe wat en waar het ek geen idee nie.

Ek het wraggies nie uitgesien na hierdie trippie nie, ek was te siek tussen-in. Die virus het my lewer aangeval, en bo-op die naar en seer het ek toe nou nog 'n allergiese reaksie teen al die pynpille wat NIE my lewer aantas nie (maw dit wat veilig is om te drink met lewerfunksies wat uit die radar uithol). Dit beteken dat ek vir meer as 2 weke PLAT in die bed was. Ek kon skaars my kop oplig en kon niks drink teen die spier- en gewrigspyne nie. Op 'n stadium het ek regtig gedink ek gaan dood, en 'n ruk daarna gewens ek gaan liewers dood. Ek was bleddie siek - het 5kg verloor. Ek sukkel selfs nou nog met koffie en hier in Italie waar die koffie so heerlik is, is dit wraggies tragies.

En toe ek my kop optel vlieg ek alweer. Het so gehoop die doktertjie wil my maar afboek, maar geen genade nie. Lewerfunksies was genoeg hestel dat hy nou nie eintlik gevoel het ek moet my werk afskeep nie. Gelukkig vlieg ek toe besigheidsklas (dankie tog vir Voyager-punte) en goeie kollegas. Dit was heerlik. Julle - die luuksheid wat geld kan koop. Daar is soveel beenspasie, mens moet opstaan om jou Inflight tydskrif in die hande te kry. Jou stoel word 'n HELE bed en jy kry op die koop toe 'n kussing en duvet. Met elke ete DEK hulle jou tafeltjie met 'n wit lap tafeldoekie en jy eet uit glasware. Jou bed kan jou selfs masseer!

Om te kan byhou, het my kollegas my summier op Essentiale en pas my op sodat ek elke dag my 6 drink. Dit het baie gehelp. Ek kan darem saam drink aan die Italiaanse wyne. En julle, dis goeie wyn. Hierdie klomp kan maar wynmaak en koskook. Hulle ken van.

Die konferensie is darem goed. Die hotel se internet is net alweer bleddie duur, maar ons het internet hier by die konferensiesentrum in sekere lokale. Ek hoop ons kan bietjie van ons collaborations verder vat. Maar ek dink ek staak vir die res van die jaar wat vlieg aanbetref.

Thinus se blog Italie 2009.

Dins 9 Jun 2009, 13:18

Donderdagoggend 9 April 2009
Ek moet eers die storietjie vertel terwyl ek op die trein sit na Roma. Groot taak van die dag is om van Bolzano na Roma te reis per trein. Ons trein vertrek 01:09 vanaf Bolzano. In die middel van die nag!
So bietjie van die aanloop … Die aand van 8 April kuier ons eers ‘n laaste bietjie saam met Nella, drink so bietjie wyn, bier, eet kaas en brood en die lekkerste duurste erdbeere. Teen 21:30 vat sy die trein met ‘n swaar gemoed terug Brixon toe. Ons pak en het darem nog so uur of wat om skuins te lê. Beste kom op ‘n punt agter die tandestokkie van haar Switserse mes is weg. Wie dink julle is die skuldige …. Ek het dit die vorige aand gebruik, maar dit baie presies weer terug gesit want ek weet, behoede die een wat iets van daardie geliefde mes lat wegraak. So raak sy aan die slaap sonder die tandestokkie in die mes …
Teen 00:15 spring ons op, pak die laaste goed en vertrek – sak en pak – letterlik. By die hotel se voordeur besluit sy die tandestokkie pla te veel sy wil weer gaan kyk. Ga, jy sal dit nie glo nie sy kom met ‘n klimlag so breed soos ‘n “kiddies slope” daar aan. Die stokkie het onder die stoel waarop – ek – gesit het, gelê … Die enigste verklaring wat ek daarvoor het, is dat dit utigeval het toe ek die
Frizziane wyn se kurk uitgepluk het. Nou’s die vrede weer herstel.
Flink stap ons stasie toe in die middernagtelike ure sonder dat daar eers ‘n gedagte van ‘n selfoondief, rower, verkragter of moordenaar naby ons breine kom.
Wat ons nie op gereken het nie, is dat die stasie se deure dalk gesluit kan wees. Wel aangesien ons nie daarop gereken het nie, was dit gesluit. Nou wat nou? Dit is 13 minute voor die trein vertrek. Gelukkig sien ons daar kom ander misrekendes ook na die geslote deure aangestap. Hulle gee die deure een pluk, swaai in hul spore om begin doelgerig in ‘n rigting stap. Beste se onmiddelike gevolgtrekking is … dit lyk of hulle weet waarheen hulle gaan, kom ons volg hulle. Teen ‘n drafstap is ons sakke en pakke al agter die doelgerigte misrekendes aan. Na so 3 minute se stap wat soos 14 minute gevoel het, sien ons ‘n plek waar ons die stasie kan binnegaan. Reg langs die teken wat in duits dit baie duidelik stel dat dit -“verbode is om oor die spoor te loop”-, loop ons oor die spoor na die, tot dusver onbekende, platvorm. Ek wil nog kyk op watter platvorm ons moet wees, maar beste het spoor gevat… Bokspringende oor die spore kom ons by ‘n platvorm aan waarop daar, ja raai wat, staan? Bologone. Gelukkig het ons kennis van Italië bietjie vermeerder en besef ons dit is die regte plek, Bologne is ‘n groot dorp voor Roma. Kaartjies in die geelboksie gedruk om dit geldig te maak, staan ons en wag.
Presies 01:09 kom die trein die stasie binne gegly. Ek staan lekker naby die deur. Terwyl ek die tas optel om op die trap te sit stap daar ‘n donker dik Italiaanse? vrou of iets voor my by die trap op met nog ene kort op haar hakke. Gmf besluit ek, haar voet, en druk my tas voor haar in op die trap, draai my lyf ook voor haar in en vat ons ander tas aan en plaas dit ook voor haar in die trein. Ek besef hier kom ‘n gespook om plek, want ons het 2e klas kaartjies en die kaartjieverkoper het dit baie duidelik gestel dat: “Seats are not reserved”. Hy het dit ‘n paar keer herhaal om seker te maak ons hoor hom – ek kon nie verstaan hoekom hy dit so pertinent sê nie, nou begin ek verstaan – ‘n geveg om plek! Strategie. “Beste gaan kry jy solank plek, ek sal sak en pak versorg.” Die trein het kompartemente waarvan die deur toe en gordyntjies ook toegetrek is. Soos ek in die gang by die mense verbygeskuif kom hoor ek daar is ‘n lawaai in ‘n kompartement. Raai wat? Beste het aan die einste donker dik Italiaanse? vrou se boud gevat. Harassment ens ens is van die woorde wat genoem word. Toe ek die kompartement inkom stamp die donker dik Italiaanse? vrou en haar vriendin my half uit die pad op hulle pad uit en los ‘n paar f en f woorde en sê: “I understand you language”. Wat sal ek binne die kompartement vind? ‘n Verskrikte beste. Sy het ‘n sak op die sitplek langs haar gesit om vir my plek te hou. Die dik donker Italiaanse vrou het ingestorm, sonder om ‘n woord te sê, die sak opgetel en, voor Beste se woorde van “te place is for my husband” inslag kon vind, haar vierkantig probeer sitmaak op MY plek. Dis toe met die afkomslag wat Beste haar hand by haar mond voeg, en haar hand onder die dik donker vrou se boud indruk om te verhoed dat sy op MY plek sit – wat die liefde darem nie alles ‘n mens sal laat doen nie. Die res van die geskel kan julle julle maar indink.
Arme Beste sy is skoon bedeesd gebaklei. Dit vat nogal ‘n groot broek om dit reg te kry.
So sit ons rustig en wag dat die nag moet verbygaan, tot die kondukteer opgdaag en ons kaartjies vra. Ons is op pad Roma toe in die wa wat Venezia toe gaan. Ons wa is die een agter ons. Die trein stop oor ‘n paar minute op Verona en dan word die Venezia waens af gehaak, so ons moet nou ons gewonne sitplekke verlaat en na die agterste wa verskuif. As ek reg onthou raak dit nou al gewoonte van ons om sak-en-pak deur die waens by verviesde Taljaners verby te skuif. Raai wat, wie neem ons sitplekke in? Ja, die dik-donkeres! Hulle glimlag breed en ons stap afgehaal na die agterste wa.
Nou weet ek plek is min en hier kom moontlik nog ‘n geveg, maar Beste is pap geslaan deur ‘n dik donker tong, so ek sal die gevegte moet veg. Soos ons deur die gangetjie voort sukkel sien ek al die deure en gordyne is dig toegetrek. In die bagasieruim pak ons die sakke en staan verdwaas rond. Nog 6 ure na Roma in die bagasieruim? Beste neem stelling in op die ysige koue metaal vloer, soos ‘n Gerrie Coetzee van ouds met sy bewende lippie, die dik donker tong het al die fut uitgehaal.
Self is ek moerig want ek het skelmpies deur ‘n gordyntjie geloer en gesien daar lê ‘n slapende liggaam oor drie banke versprei. Op ‘n punt toe my boude al ysig koud is, nog voor die trein begin beweeg het, raak ek bietjie bemoerd vir die situasie en besluit nou sal ek gaan veg, maar hier sit ek nie vir nog 6 ure nie, al moet ek iemand uit sy / haar diepe gemaklike slaap wakker skud. Die een wa af, elke toegedrukte deur beur ek oop, al het hulle rekke gebruik om dit toe te hou, maar geen kompartement met 2 sitplekke. Die volgende wa. By die eerste deur loer ek in, ga 2 sitplekke oop, beleefd vra ek of dit geneem is – nie net neerval op ander se plekke nie. “Ja”, sê ‘n Sjineese dame een plek is geneem. Ek wonder …. Volgende deur oop. Hier is drie jong manne uitsprei soos jam op brood oor die banke. Die een lig traag en onwillig sy een ooglid op en kyk my met verdwasing aan. Baie vriendelik en vrolik verneem ek of die plekke geneem is. Baie duidelik is dit nie, so hy kan nie vir my ‘n pizza rol nie.
Sederdien sit ons in die kompartement. Ek het bietjie op die vloer geslaap, dit het vir Beste 2 sitplekke gegee om haar uitklophou af te slaap. Die drie jong manne het op Florance afgeklim en nou sit ons saam met 4 ander pendelaars wat op pad werk toe is in die kompartement op pad na Roma!
Dit is lig en die Italiaanse platteland is lentemooi.
ONS VERBLYF IN BOLZANO
Die tien nagte in Bolzano was ‘n belewenis. Ek het net besef mens kan baie meer kreatief wees in omstandighede waar jy nie hoef te vrees dat iemand jou helder oor dag van jou selfoon of jou lewe wil berowe nie. Ek hoef selfs nie eers in die nag patrollie te loop nie!
Dit is lekker in die beskawing!!! Ons staan 07:30 op, en word verwelkom met die wonderlikste ontbyt reuke. Ek noem dit die “gesnuif van vars soetgebak van ‘n Europese ontbyt”. Heerlik! Vars gemaakte cuppacino!
In ons “squeaky room” 5 minute se stap van die hotel werk ons tot 12:30. Tyd vir pizza in die menza. Terug na die squeaky room tot 17:00 of bietjie later afhangende hoe ons voel. Dan …. VENIZIANO op die Whalter platze waar ons gereeld ‘n straatopera beleef het. Partykeer met begeleiding ander kere daarsonder. Op pad hotel toe stop ons by Spar vir wyn en brood en kaas. By die Gelateria tel ons gou ‘n eg Italiaanse gelato op vir €1. Vir die van julle wat nog die Danish ice cream in Sunnyside oorkant Sunnypark kan onthou. Italiaanse Gelato is Danish ice cream gekwadreer. Die aand wel, wat kan mens nou doen in ‘n beknopte hotelkamertjie behalwe TV kyk.
Die tweede aand was ek so in vervoering na die straatopera, dat ek my rekenaarsak met backups, papiere ens ens alles net so langs die stoel op die plein gelos het. Dit kom ek eers later die aand agter toe ek my navorsingsvraag wat na ‘n halwe bottel rooiwyn uitgedink is, wou neerskryf. Ysige sneeu val op my, Alpe berge bedek my! Kop onderstebo stap ek terug plein toe en sowaar … dis die beskawing hier! Die sak staan presies langs die stoel waar ek hom gelos het. Ek kan dit nie glo nie. Soveel so dat ek dit die volgende dag weer uittoets. Hierdie keer met my kamera by ‘n koffiewinkel. Ek los die kamera doelbewus langs my stoel op die sypaadjie op die hoek van twee groot strate op die grond. Na twee ure gaan ‘n houtgerus terug en vind dit uit die hande van die kelner. Hy het dit in veilige bewaring vir my gehou..

Thursday, February 19, 2009

Ons laaste dag in Innsbruck

Ons het toe de ski-ding aangepak vandag, en dit was heel opwindend. Moet se^ ek bly 'n ongeluk wat 'n plek soek om te gebeur. Met my eerste poging het ek die plek se speaker platgeski en selfs op 'n stadium onder deur ons instrukteur gegly. Wat 'n verleentheid! Alta het soos laas baie goed reggekom, ski is in haar bloed!

More vat ons die pad terug. Sien Alta se blog by http://innsbruck2009-alta.blogspot.com/

Wednesday, February 18, 2009

Uiteindelik klaar gepraat

Dit bly maar stressvol, maar dis makliker as dit mens se student se werk is, want jy kan die moeilike vrae aanstuur! Met jou eie werk het mens nie daai voordeel nie.

Foto's by

Kliek op die slideshow.

Alte se blog is ook opgedateer by http://innsbruck2009-alta.blogspot.com/

Tuesday, February 17, 2009

Innsbruck continued

As posted on my Facebook status: Aurona Gerber has new definitions for cold, white, slippery and bad planning. 'Cold' is this evening after the snow and sleet in a very fresh wind (I truly believe the -17 degrees prediction for Innsbruck hubby sent me this morning). 'White' is today after 6 hours of continuous heavy snow fall. 'Slippery' is the pavements after the snow and rain with the icy wind - it is worse than an ice ring without skates, and 'bad planning' is working on my presentation after the conference dinner ... Ohhh man...

Innsbruck 2009

Alta se blog is weer op datum by http://innsbruck2009-alta.blogspot.com/. Vandag begin die kongres. Ongelooflik hoe die tyd vlieg.

Monday, February 16, 2009

Munich

Gelukkig begin die konferensie eers more, so ons is vandag Munich toe met die kar. Baie dapper! Paula en Alta is formidabele reisgenote, in die kar en stuit vir niks. Ons het met die GPS gery snelweg langs tot in Munich se middestad, geparkeer, die ou stad platgestap en met 'n asemrowende paadjie deur die berge terug Innsbruck toe gery.
Dit was ongelooflik koud, mens se neus en ore vries af binne minute.

Kliek op die foto's vir die Picasa album -

Sunday, February 15, 2009

Nog Innsbruck, 15 Feb'09

'n Heerlike dag in die berge. Ons het maar die ski gelos en net ons innerlike versterk dmv die uitsig en die ander nodige voggies en kossies. Dit was 'n sonskyn dag en almal was in die berge.

Nog foto's op my Picasa album of kliek op die foto's om na die album te gaan.

Moenie vergeet om Alta se blog te lees nie.

Innsbruck 2009

Mens hoef maar net Alta se blog te lees. Sy se^ alles. My foto's is op Picasa.
Innsbruck