Tuesday, June 8, 2010

Ai tog - die malle-malle-meule

Vry 8 Mei 2009, 14:48  

 Ek was terug vir 3 weke in die bed met een of ander eienaardige virus en is alweer terug in Milaan waar hulle gister by die staise my beursie met al my Euro's en kaarte uit my handsak gesteel het. Hoe wat en waar het ek geen idee nie.

Ek het wraggies nie uitgesien na hierdie trippie nie, ek was te siek tussen-in. Die virus het my lewer aangeval, en bo-op die naar en seer het ek toe nou nog 'n allergiese reaksie teen al die pynpille wat NIE my lewer aantas nie (maw dit wat veilig is om te drink met lewerfunksies wat uit die radar uithol). Dit beteken dat ek vir meer as 2 weke PLAT in die bed was. Ek kon skaars my kop oplig en kon niks drink teen die spier- en gewrigspyne nie. Op 'n stadium het ek regtig gedink ek gaan dood, en 'n ruk daarna gewens ek gaan liewers dood. Ek was bleddie siek - het 5kg verloor. Ek sukkel selfs nou nog met koffie en hier in Italie waar die koffie so heerlik is, is dit wraggies tragies.

En toe ek my kop optel vlieg ek alweer. Het so gehoop die doktertjie wil my maar afboek, maar geen genade nie. Lewerfunksies was genoeg hestel dat hy nou nie eintlik gevoel het ek moet my werk afskeep nie. Gelukkig vlieg ek toe besigheidsklas (dankie tog vir Voyager-punte) en goeie kollegas. Dit was heerlik. Julle - die luuksheid wat geld kan koop. Daar is soveel beenspasie, mens moet opstaan om jou Inflight tydskrif in die hande te kry. Jou stoel word 'n HELE bed en jy kry op die koop toe 'n kussing en duvet. Met elke ete DEK hulle jou tafeltjie met 'n wit lap tafeldoekie en jy eet uit glasware. Jou bed kan jou selfs masseer!

Om te kan byhou, het my kollegas my summier op Essentiale en pas my op sodat ek elke dag my 6 drink. Dit het baie gehelp. Ek kan darem saam drink aan die Italiaanse wyne. En julle, dis goeie wyn. Hierdie klomp kan maar wynmaak en koskook. Hulle ken van.

Die konferensie is darem goed. Die hotel se internet is net alweer bleddie duur, maar ons het internet hier by die konferensiesentrum in sekere lokale. Ek hoop ons kan bietjie van ons collaborations verder vat. Maar ek dink ek staak vir die res van die jaar wat vlieg aanbetref.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.