Tuesday, June 8, 2010

Thinus se blog Italie 2009.

Dins 9 Jun 2009, 13:18

Donderdagoggend 9 April 2009
Ek moet eers die storietjie vertel terwyl ek op die trein sit na Roma. Groot taak van die dag is om van Bolzano na Roma te reis per trein. Ons trein vertrek 01:09 vanaf Bolzano. In die middel van die nag!
So bietjie van die aanloop … Die aand van 8 April kuier ons eers ‘n laaste bietjie saam met Nella, drink so bietjie wyn, bier, eet kaas en brood en die lekkerste duurste erdbeere. Teen 21:30 vat sy die trein met ‘n swaar gemoed terug Brixon toe. Ons pak en het darem nog so uur of wat om skuins te lê. Beste kom op ‘n punt agter die tandestokkie van haar Switserse mes is weg. Wie dink julle is die skuldige …. Ek het dit die vorige aand gebruik, maar dit baie presies weer terug gesit want ek weet, behoede die een wat iets van daardie geliefde mes lat wegraak. So raak sy aan die slaap sonder die tandestokkie in die mes …
Teen 00:15 spring ons op, pak die laaste goed en vertrek – sak en pak – letterlik. By die hotel se voordeur besluit sy die tandestokkie pla te veel sy wil weer gaan kyk. Ga, jy sal dit nie glo nie sy kom met ‘n klimlag so breed soos ‘n “kiddies slope” daar aan. Die stokkie het onder die stoel waarop – ek – gesit het, gelê … Die enigste verklaring wat ek daarvoor het, is dat dit utigeval het toe ek die
Frizziane wyn se kurk uitgepluk het. Nou’s die vrede weer herstel.
Flink stap ons stasie toe in die middernagtelike ure sonder dat daar eers ‘n gedagte van ‘n selfoondief, rower, verkragter of moordenaar naby ons breine kom.
Wat ons nie op gereken het nie, is dat die stasie se deure dalk gesluit kan wees. Wel aangesien ons nie daarop gereken het nie, was dit gesluit. Nou wat nou? Dit is 13 minute voor die trein vertrek. Gelukkig sien ons daar kom ander misrekendes ook na die geslote deure aangestap. Hulle gee die deure een pluk, swaai in hul spore om begin doelgerig in ‘n rigting stap. Beste se onmiddelike gevolgtrekking is … dit lyk of hulle weet waarheen hulle gaan, kom ons volg hulle. Teen ‘n drafstap is ons sakke en pakke al agter die doelgerigte misrekendes aan. Na so 3 minute se stap wat soos 14 minute gevoel het, sien ons ‘n plek waar ons die stasie kan binnegaan. Reg langs die teken wat in duits dit baie duidelik stel dat dit -“verbode is om oor die spoor te loop”-, loop ons oor die spoor na die, tot dusver onbekende, platvorm. Ek wil nog kyk op watter platvorm ons moet wees, maar beste het spoor gevat… Bokspringende oor die spore kom ons by ‘n platvorm aan waarop daar, ja raai wat, staan? Bologone. Gelukkig het ons kennis van Italië bietjie vermeerder en besef ons dit is die regte plek, Bologne is ‘n groot dorp voor Roma. Kaartjies in die geelboksie gedruk om dit geldig te maak, staan ons en wag.
Presies 01:09 kom die trein die stasie binne gegly. Ek staan lekker naby die deur. Terwyl ek die tas optel om op die trap te sit stap daar ‘n donker dik Italiaanse? vrou of iets voor my by die trap op met nog ene kort op haar hakke. Gmf besluit ek, haar voet, en druk my tas voor haar in op die trap, draai my lyf ook voor haar in en vat ons ander tas aan en plaas dit ook voor haar in die trein. Ek besef hier kom ‘n gespook om plek, want ons het 2e klas kaartjies en die kaartjieverkoper het dit baie duidelik gestel dat: “Seats are not reserved”. Hy het dit ‘n paar keer herhaal om seker te maak ons hoor hom – ek kon nie verstaan hoekom hy dit so pertinent sê nie, nou begin ek verstaan – ‘n geveg om plek! Strategie. “Beste gaan kry jy solank plek, ek sal sak en pak versorg.” Die trein het kompartemente waarvan die deur toe en gordyntjies ook toegetrek is. Soos ek in die gang by die mense verbygeskuif kom hoor ek daar is ‘n lawaai in ‘n kompartement. Raai wat? Beste het aan die einste donker dik Italiaanse? vrou se boud gevat. Harassment ens ens is van die woorde wat genoem word. Toe ek die kompartement inkom stamp die donker dik Italiaanse? vrou en haar vriendin my half uit die pad op hulle pad uit en los ‘n paar f en f woorde en sê: “I understand you language”. Wat sal ek binne die kompartement vind? ‘n Verskrikte beste. Sy het ‘n sak op die sitplek langs haar gesit om vir my plek te hou. Die dik donker Italiaanse vrou het ingestorm, sonder om ‘n woord te sê, die sak opgetel en, voor Beste se woorde van “te place is for my husband” inslag kon vind, haar vierkantig probeer sitmaak op MY plek. Dis toe met die afkomslag wat Beste haar hand by haar mond voeg, en haar hand onder die dik donker vrou se boud indruk om te verhoed dat sy op MY plek sit – wat die liefde darem nie alles ‘n mens sal laat doen nie. Die res van die geskel kan julle julle maar indink.
Arme Beste sy is skoon bedeesd gebaklei. Dit vat nogal ‘n groot broek om dit reg te kry.
So sit ons rustig en wag dat die nag moet verbygaan, tot die kondukteer opgdaag en ons kaartjies vra. Ons is op pad Roma toe in die wa wat Venezia toe gaan. Ons wa is die een agter ons. Die trein stop oor ‘n paar minute op Verona en dan word die Venezia waens af gehaak, so ons moet nou ons gewonne sitplekke verlaat en na die agterste wa verskuif. As ek reg onthou raak dit nou al gewoonte van ons om sak-en-pak deur die waens by verviesde Taljaners verby te skuif. Raai wat, wie neem ons sitplekke in? Ja, die dik-donkeres! Hulle glimlag breed en ons stap afgehaal na die agterste wa.
Nou weet ek plek is min en hier kom moontlik nog ‘n geveg, maar Beste is pap geslaan deur ‘n dik donker tong, so ek sal die gevegte moet veg. Soos ons deur die gangetjie voort sukkel sien ek al die deure en gordyne is dig toegetrek. In die bagasieruim pak ons die sakke en staan verdwaas rond. Nog 6 ure na Roma in die bagasieruim? Beste neem stelling in op die ysige koue metaal vloer, soos ‘n Gerrie Coetzee van ouds met sy bewende lippie, die dik donker tong het al die fut uitgehaal.
Self is ek moerig want ek het skelmpies deur ‘n gordyntjie geloer en gesien daar lê ‘n slapende liggaam oor drie banke versprei. Op ‘n punt toe my boude al ysig koud is, nog voor die trein begin beweeg het, raak ek bietjie bemoerd vir die situasie en besluit nou sal ek gaan veg, maar hier sit ek nie vir nog 6 ure nie, al moet ek iemand uit sy / haar diepe gemaklike slaap wakker skud. Die een wa af, elke toegedrukte deur beur ek oop, al het hulle rekke gebruik om dit toe te hou, maar geen kompartement met 2 sitplekke. Die volgende wa. By die eerste deur loer ek in, ga 2 sitplekke oop, beleefd vra ek of dit geneem is – nie net neerval op ander se plekke nie. “Ja”, sê ‘n Sjineese dame een plek is geneem. Ek wonder …. Volgende deur oop. Hier is drie jong manne uitsprei soos jam op brood oor die banke. Die een lig traag en onwillig sy een ooglid op en kyk my met verdwasing aan. Baie vriendelik en vrolik verneem ek of die plekke geneem is. Baie duidelik is dit nie, so hy kan nie vir my ‘n pizza rol nie.
Sederdien sit ons in die kompartement. Ek het bietjie op die vloer geslaap, dit het vir Beste 2 sitplekke gegee om haar uitklophou af te slaap. Die drie jong manne het op Florance afgeklim en nou sit ons saam met 4 ander pendelaars wat op pad werk toe is in die kompartement op pad na Roma!
Dit is lig en die Italiaanse platteland is lentemooi.
ONS VERBLYF IN BOLZANO
Die tien nagte in Bolzano was ‘n belewenis. Ek het net besef mens kan baie meer kreatief wees in omstandighede waar jy nie hoef te vrees dat iemand jou helder oor dag van jou selfoon of jou lewe wil berowe nie. Ek hoef selfs nie eers in die nag patrollie te loop nie!
Dit is lekker in die beskawing!!! Ons staan 07:30 op, en word verwelkom met die wonderlikste ontbyt reuke. Ek noem dit die “gesnuif van vars soetgebak van ‘n Europese ontbyt”. Heerlik! Vars gemaakte cuppacino!
In ons “squeaky room” 5 minute se stap van die hotel werk ons tot 12:30. Tyd vir pizza in die menza. Terug na die squeaky room tot 17:00 of bietjie later afhangende hoe ons voel. Dan …. VENIZIANO op die Whalter platze waar ons gereeld ‘n straatopera beleef het. Partykeer met begeleiding ander kere daarsonder. Op pad hotel toe stop ons by Spar vir wyn en brood en kaas. By die Gelateria tel ons gou ‘n eg Italiaanse gelato op vir €1. Vir die van julle wat nog die Danish ice cream in Sunnyside oorkant Sunnypark kan onthou. Italiaanse Gelato is Danish ice cream gekwadreer. Die aand wel, wat kan mens nou doen in ‘n beknopte hotelkamertjie behalwe TV kyk.
Die tweede aand was ek so in vervoering na die straatopera, dat ek my rekenaarsak met backups, papiere ens ens alles net so langs die stoel op die plein gelos het. Dit kom ek eers later die aand agter toe ek my navorsingsvraag wat na ‘n halwe bottel rooiwyn uitgedink is, wou neerskryf. Ysige sneeu val op my, Alpe berge bedek my! Kop onderstebo stap ek terug plein toe en sowaar … dis die beskawing hier! Die sak staan presies langs die stoel waar ek hom gelos het. Ek kan dit nie glo nie. Soveel so dat ek dit die volgende dag weer uittoets. Hierdie keer met my kamera by ‘n koffiewinkel. Ek los die kamera doelbewus langs my stoel op die sypaadjie op die hoek van twee groot strate op die grond. Na twee ure gaan ‘n houtgerus terug en vind dit uit die hande van die kelner. Hy het dit in veilige bewaring vir my gehou..

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.