Monday, August 20, 2007

Battered Mums

Dit gaan dol - ek het 'n verliefde, emosiebelaaide en bedonnerde tiener, en 'n verbete 8 jarige wat verjaar en presies 6 maatjies presies om 12:30 op presies 'n sekere manier opgelaai wil he om op presies op 'n spesifieke manier te gaan ysskaats. Aangesien Ouma ook nog verjaar en die naweek by ons is, dog ek ek vat Ouma en Oupa, en tiener en boyfriend saam om te gaan help ogie hou oor die agtjariges.

Na 'n geweldige uittog waar ek almal teen alle aanslae bymekaar probeer hou in Kolonade (ons het wraggies 'n treintjie gemaak met al die agtjariges aanmekaargehak in Kolonade se mensemassa) is ons toe uiteindelik by die ysskaatsbaan. Selfs die kassier het opgegee om te probeer tel tuseen ouens en jonges en tieners en gillende agtjariges. Met al die lawaai en mense is Ouma en Oupa toe so verwilderd, hulle sit net met groot oe op die stelasie teen mekaar. Kompleet soos verkluimde hoendertjies. So ek moet my oor hulle ook ontferm. En boyfriend se arm is seer so hy was presies een sekonde op die ys (R45 in sy maai), en toe is tiener ook nikswerd, sy weet nie mooi waar en hoe om aandag te skenk nie. Net sodra ek dink sy kyk na een helfte van my verantwoordelikhede en ek begin die ander desperaat soek, onthou sy weer van afarmpie, en dan laat sy hul oor aan hul lot tot my groot konsternasie, want ek het nog nie eers die ander helfte opgespoor op die ys nie.

So, met my seer enkel was dit net beterhelfte ('n grys, stywebeen 40jarige) op die ysskaatsbaan met 6 dogterjies wat pad vat teen baie verskillende spoedens en verskillende rigtings. Orals waar 'n hoop ysskaters val en verongeluk, was een van my spulletjie betrokke. Sug....

Daarna moes ons die Bratz Faerietopia koek (dis nou 'n Bratz pop opgemaak in 'n Faerietopia versiersuikergewaad - ek dink nie dit was ooit Bratz se idee nie) gaan opeet by Milky Lane. Het my bes probeer om die koek by die huis te hou, maar 8-jarige was verbete, die koek is verbete opgepas sedert Donderdag, en met baie moeite saamgepiekel ysskaatsbaan en Milky-Lane toe voordat ons dit met die nodige seremonie verwoes het! Dis nou nadat die miere die koek op die eerste aand ontdek het, en ek amper 'n uur laat was vir werk omdat ek die verbete 8-jarige moes bystaan in die oorlog teen die miere. Wraggies is daar toe nog 'n dogtertjie wat gil - 'ooeee, hier is 'n mier op my koek!'. Ek het toe mooi verduidelik dit maak nie saak nie, die mier se pens is so vol koek en versiersuiker, hy proe nes koek so sy kan hom maar eet. Mens is nie so 'n sissie om te gril vir miere nie, wat van al die arme kindertjies sonder kos.....

Hierdie hele seremonie het plaasgevind nadat ons 'n perdesleepwa vol hout gaan aflaai het in die middestad vir Affies se wildsfees, so ek was redelik verwilderd om mee te begin. Toe ons uiteindelik weer die spulletjie (Dankie Vader!!) ongeskonde in Rayton gekry het, is ons toe weer weg (sonder tiener) na die wildsfees. Ouma en Oupa bly by die huis, en die tiener is toe sooo siek en ongelukkig dat ons summier besluit het om sonder haar na haar skool se wildsfees toe te gaan. Net om die hele rit soontoe te baklei oor wie nou eintlik verantwoordelik was om haar in die kar in te boender en nie haar twak op te vreet nie, en wie die 'softie' was. Ons het so 23:30 by die huis gekom. Ouma en Oupa slaap toe lankal, en op die liewe Sondagoggend, dou voor dag is hulle toe wakker en uitgeslaap - net om ons op te dreun want hulle het nou genoeg geslaap so ons moet opstaan. Ons moet opslag na swaer en skoonsus toe. En ons is die taxi.

Partymaal weet ek nie hoe hou ek dit nie. Ek voel asof die lewe my saamsleur met 'n dolle vaart en dat ek net so nou en dan grondvat. En as ek grondvat is dit bleddie hard.